Zimbabwe 27 - 29 April 2007

Kom ons ondersteun die mense van Zimbabwe!

(Foto's)

Ek het sedert 1982 Zimbabwe baie gereeld besoek. Geleidelik het die land sy muishondstappie begin uithaal. Ek het gedoen wat die meeste ander mense ook gedoen het. Ek het die land nie meer besoek nie.

My wegbly aksie het jare geduur.

Dis die langnaweek einde April en my motorfiets het my gekielie: Was dit nie weer tyd om die land te gaan besoek nie?

Ek het.

En met baie meer vrae teruggekom.

En ook beskaamd.

Ek het lanklaas soveel blymoedigheid onder mense raakgeloop. Hoekom moet mens eers byna alles verloor voor jy sê "Ek weet nie verder nie maar ek vertrou."

Die toue mense by die Beitbrug aan die Zimbabwekant was baie lank. By my staan skoolgroepe wat  op padt erug is Zimbabwe toe na sportoere in Suid-Afrika. Almal het gesê dis lekker "om weer terug by die huis (Zimbabwe) te wees."

Op bad Bubirivier toe het ek by elke busstop 'n horde verkopers gesien. Pampoene en waatlemoene, rooi en stroopsoet, word te koop aangebied. Die een vrou vertel my trots van haar landerye vol waatlemoene.

Ek het Vrydagaand by die Lion & Elephant geslaap op die oewer van die Bubirivier, so 76km van die grens. Baie Zimbabwers het ook daar geslaap, op pad huis toe in Zimbabwe. Ek het nie een Jobgesig gesien nie. Ons was ten minste twintig plus saam by die aandete.

Ek het met baie gesels. Ek het gehoor van hul "networking", hoe hulle mekaar wedersyds help. Ek het 'n band onder hulle bespeur wat my laat voel het ek mis iets. By almal het ek dieselfde woorde gehoor: "Dis ons huis dié!"

Ek het mense gesien wat nie tyd het vir tierlantyntjies nie. As daar nie 'n glas is vir Coke nie dan drink hulle uit die bottel. Dit was deur die bank eerder jonger mense met klein kindertjies. Bruingebrand, gesond. En met 'n innerlike krag wat ek bewonder.

Nooit het ek gehoor dat iets onmoomtlik is nie. Jy moet net die uitweg uit die probleem vind.

Saterdag ry ek 'n bospaadjie wes tot by die Bulwayopad.

Dit neem my vyf uur om weer op die teer te kom. Ek sien nie 'n enkele motor nie. Ek ry verby talle bosgehuggies. Orals staan mielies, graansorghum, grondboontjies. Die tipiese kleinboer. Orals ervaar ek net vriendelikheid. As ek waai, waai almal terug. Nie een kind bedel nie.

Toe kom ek by Tods Motel aan. Stel jou 'n ou boerehuis soos in Out of Africa voor. Kamers. 'n Lang stoep in L-vorm voor die kamers. Vrede wat soos 'n kombers oor die mopaniebos hang.

By Tods, waar ek al baie heerlike nagte op vroeëre reise deurgebring het, word ek verder platgeslaan met dit wat ek beleef.

Gary en Thea is soos twee ou vriende wat my dadelik laat tuis voel. Ek as vreemdeling word dadelik opgeneem in die vriendekring wat die aand daar braai. Die mense by die braai is blymoedige mense. Mense wat hul grond en huis verloor het (plaasbesetting). Mense vir wie ander huisvesting deur vriende aangebied is en wie se "nuwe" huis geen lopende water het nie. En hulle kla nie want hulle het 'n huis. Die pensioenaris wat nou na 'n lewe van harde werk 'n maandelikse pensioen van Z$ 75 000.00 per maand kry, braai vir ons die vleis, 'n vlakvark wat twee dae tevore geskiet is.

Met sy Z$ 75 000.00 kan hy net 'n halwe witbrood koop. In plaas van kla, bly hy en sy vrou blymoedig want hulle het vriende wat omgee.

Sy vrou het 9 honde. Dit is honde wie se base selfmoord gepleeg het, base wat die land verlaat het. Sy sê vir my hulle weet nie waar hul kos vir die honde gaan kry nie. Sy kla nie, dis 'n voorreg dat sy na al die honde kan omsien.

Dan is daar Gary. 'n Rowwe diamant. Hy skiet een nag twee skote met sy haelgeweer in die lug om twee oproerige plaasbesetters tot bedaring te bring. Hy word deur die polisie in hegtenis geneem en met een van sy plaaswerkers wat by was, beland hy vir 'n week in die tronk. Sy paspoort word gekonfiskeer en die saak kom nou 18 Mei voor. Hy sit nie in sak en as nie. 

Op die klagstaat POGING TOT MOORD.

Vroeër die middag gaan wys hy vir my die skrapnel- en koeëlmerke wat nog steeds teen die mure sit na 'n groep van 30 guerillas hulle een nag in 1979 aangeval het. Die gat sit nog in die stoep waar 'n mortierbom deur die dak geval het en die trappe afgerol het, sonder om te ontplof.

Genade was met hulle in hul eerste oorlog. Genade sal ook nou by hul wees met hul tweede "oorlog". Gary dink nie daaraan om pad te gee nie.

Sy vrou Thea glo aan beskermengele. Thea is die soort vrou waarvan ons in ons geskiedenisboeke lees. Sy loop nie nou kaalvoet oor die Drankensberge nie, sy loop die burokrasie storm en veg verwoed vir haar man terwyl die swaard oor sy kop hang. Thea is 'n gee-mens. Sy omarm die vrou wat vigs het, sy trek die boeke van 'n werkerskind oor. Toe haar kombuiswerkers die aand klaar is, kom sê hulle vriendelik nag. Thea is hulle alles.

Baie sal sê dat die prentjie wat ek nou geskets het, te positief is. Ek aanvaar dat in die stede die mense baie meer ly, ook honger ly. Ek weet egter een ding: Om Zimbabwe te boikot, gaan niks help nie. Die wat nou reeds die meeste ly, gaan nog meer ly.

Ek het nooit onveilig gevoel nie, ek is altyd vriendelik deur wit en swart behandel. Ek het weer 'n stukkie van die siel van Zimbabawe beleef wat dit so 'n wonderlike land maak.

Ek steun WEG in sy kommentaar oor Zimbabwe. Gaan en besoek die land en spandeer jou geld by hulle wat om oorlewing veg!

Tods Motel: 120 km van Beitbrug op die Bulawayopad. E-pos hulle en gaan bly daar vir 'n nag of twee, vat boeke saam en sit op die stoep voor jou kamer en lees! Dit is naby genoeg aan Gauteng.

Lion and Elephant: 76 km van Beitbrug op die Hararepad.  Hul telefoonnommer is 00263 14336.

Die mense van Zimbabwe, wit en swart, het ons toeriste nodig. Kom ons help hulle.


 

Motorfiets: Die KLR 650 het presies gedoen waarvoor ek hom gekoop het: Rygerief op die teer, baie goeie hantering op die bospaadjie (ek moet nog net leer om in die sand vet te gee!) en veral baie goeie brandstofverbruik.

Almal ken die situasie in Zimbabwe: Geen brandstof. Daarom het ek baie rustig op die teerpad gery. Op die bospaadjie was vierde rat die hoogste en derde rat die mees algemene rat. Die fiets het nie warm geword nie en met die rustige gedreun van die een silinder het ek ure lank deur die pragtige bos gery. Dit was nie eers nodig om na die resertenk oor te skakel nie. Ek het met nog ses liter oor in die tenk by die grens aangekom na drie dae se lekker ry.


Terug