Ek noem die rit Ride for a Smile. Hoekom?

1. Ek wil ten minste R 90 000.00 vir Operation Smile insamel. Onderaan die bladsy is meer inligting.

2. Ek wil met 'n Smile-veldtog begin. Ons moet meer glimlag. As ons so voel, moet ons glimlag. As ons nie so voel nie, moet ons nog steeds glimlag. Ons moet 'n "attitude"-verandering ondergaan. Kan jy dink as elke motorfietsryers in Suid-Afrika oor sy hooflig 'n deurskynende oranjefoelie het met 'n smile op? Ons sal die boodskap uitdra! Miskien moet iemand so iets aanpak en dit vir Operation Smile verkoop. Kontak my as jy idees het.

 

Ride for a Smile

Goeie nuus! Die geld vir die eerste vyftien kinders se operasie is byna ingesamel! Al die geld wat nou inkom, gaan net vir meer kinders die lewensveranderende operasie moontlik maak. 

Hoeveel geld wou ek insamel? R 90 000! Hoekom juis soveel? Dit gaan genoeg geld wees om vir 15 kinders se operasies en ses maande se nasorg te betaal. Hoekom vir 15 kinders? FSA Youth Exchange, die wonderlikste groep om voor te werk, is hierdie jaar reeds 15 jaar lank in Suid-Afrika besig met die leerlinguitruilprogram tussen Suid-Afrika en Duitsland. Dit is dus een kind vir elke jaar. 

Elke donasieword op die webblad erken, en die volle bedrag wat ek met "Ride for a Smile" gaan insamel, gaan aan Operation Smile oorhandig word. Wat 'n lekkerte dat geen enkele sent vir administratiewe koste afgetrek gaan word nie! Dit is my waarborg aan julle.

Ek hoop ek kan op JOU steun reken sodat ons ons doelwit, en nog meer, kan bereik!

(Operation Smile is 'n geregistreerde Art. 21 maatskappy. Skenkings aan Operation Smile is belastingaftrekbaar)