Die Filosofie van Reis

Hoekom reis mens?                                                        

Reis 'n mens om so vinnig moontlik van punt A na punt B te kom?

Reis 'n mens om na die tyd te kan spog oor hoeveel gevare en ontberings jy lang die pad gehad het? Of hoeveel drank en vrouens?

Reis 'n mens om na die tyd te kan sê hoe goed of hoe sleg 'n voertuig was?

Alles kan waar wees. Ek het lank daaroor gedink oor hoekom ek so 'n lang reis wil aanpak. Ek het my reisfilosofie vir myself duidelik geformuleer.

Ek wil my volgende reis, moontlik deur Rusland en Siberië, op 1 Junie 2010 begin. 

Ek wil na die mooi diep dreuning van my "thumper" luister wat gemaklik baie kilometers per dag agter ons gaan sit. Ek wil nie jaag en na die huilende geskreeu van 'n enjin luister nie. Dit maak nie vir my saak hoeveel kilometer ek per dag gaan aflê nie.

Ek wil soveel ervarings as moontlik gaan maak, met mense wat ek nog moet ontmoet, met landstreke waardeur ek nog nie voorheen gereis het nie, ek wil die kleur en reuke gaan geniet van gebiede wat ander mense hulle "huis" noem.

Ek wil elke aand waar my tentjie gaan staan, of waar ek in 'n rondawel of hut gaan slaap, suide toe kyk, daar waar my huis behoort te wees. 

Ek wil van vooroordele ontslae gaan raak. Ek wil nie ander lande gaan meet met die lineaal van "So doen ons dit by ons nie". 

Met Hemelse Genade wil ek voor 15 Augustus 2010 in Vladivostok aankom, as 'n wyser mens wat die beginsel van The Alchemist gaan uitleef het.

"Life is truly good to those who pursue their life destiny." (The Alchemist)

(My filosofie: Word groter as jou skaduwee teen sonsondergang)