My keuse van 'n motorfiets

Met my eerste langafstandtoer in 2008, deur Afrika en Europa tot by Rusland oor 20 000 km, het my 2007 Kawasaki KLR homself deeglik bewys. Oor 20 000 km het ek slegs een sekering (fuse) vervang.

Vir my volgende toer gaan ek weer dieselfde fiets gebruik. Tans (September 2009) het die fiets reeds meer as 40 400 km op.

Hoekom?

1. Die KLR 650 is 'n model wat al meer as 22 jaar bestaan;

2. Dit is 'n draad en tang fiets as iets verkeerd gaan (behalwe as 'n skakelaar êrens besluit dat dit tyd is om die gees te gee). 'n Mens het nie 'n rekenaar nodig om dit te herstel nie. Vir afgeleë streke in Afrika of Siberië kan dit belangrik wees.

3. Sy gewig. Dit is makliker om 'n fiets van 153kg regop te hou in sand en modder as 'n fiets van 240kg.

4. Brandstoftenk. Die tenk neem 23 liter. Daarmee kan mens teen 17km/l ongeveer 391 km ry. Dit is 'n groot pluspunt in Afrika met brandstofpunte dikwels baie ver uitmekaar. Op my vorige toer het ek talle kere oor die 400 km gehaal met nog meer as 6 liter oor in die tenk.

5. Die prys van die fiets.

6. En dan, kan baie mense altyd verkeerd wees? Die KLR 650 is die mees verkoopte Enduro in die VSA (Bron: MotoTraveller uit Duitsland, Ausgabe 1-2007, bladsy 103)

7. Kyk gerus bietjie na hierdie toetsverslag www.motoring.co.za/index.php?fSectionId=913&fArticleId=3593393

8. Daar het 'n verdere pluspunt vir die Kawasaki bygekom. Ek was gister by die AA om meer inligting oor die Carnet de Passage te kry. Vir Egipte moet 'n mens 'n bankwaarborg van 100% van die fiets se waarde gee. Dit sou hard wees met 'n BMW van R 129 000.00 om die geld by al die ander kostes bymekaar te kry.