2008 Borge

 

Toe ek my toer begin beplan het, het ek een ding my voorgeneem: Ek gaan by geen maatskappy of instansie met borgbriefies rondloop nie. Die toer is my idee, dus moet ek sien om tot die eindpunt te kom.

Die hele idee om die toer het mense begin te begeester en toe ek weer sien, lê die eerste aanbod van wildvreemdes op my lessenaar. Mense met 'n wonderlike swerwersdrang in hul are wil in gees saamry, en hulle doen dit deur iets op my reis saam te gee.

Die resultaat is die lys hier onder: Wonderlike vreemdelinge en ook vriende wat uit hul eie 'n bydrae gemaak het. Aan een en elke van julle 'n groot dankie! Julle gaan saam met my deur Afrika ry.


Ek wil twee mense heel eerste noem. Ek het hul toevallig by Golden Gate ontmoet. Uit die bloute het hulle later aangebied het om vir my 'n tent te borg. Die twee wonderlike mense is Martin en Liezel Prinsloo van Centurion. Baie dankie Martin en Liezel, dit is 'n gebaar wat ek baie waardeer!

MartinLiezelPrinsloo.jpg (80509 bytes) Martin & Liezel Prinsloo

  Liezel en Martin op Naboom.

Dié twee pragtige mense het vir my die tent Naboomspruit toe gebring wat hulle vir my geborg het. 

Waarmee was ek die meeste beïndruk? Die tent nadat ek dit opgeslaan het, of die twee byna vreemdelinge wat so geboei word deur die ver en onbekende paaie van ons kontinent?

Liezel en Martin, ek hoop ons kry nog die kans voor my toer om saam een aand op Makgadigadi te sit en sterre kyk.


louis.jpg (97335 bytes) Louis de Villiers (agter), Jean, Riana en Jacques de Villiers (voor)

As 'n maatskappy 'n borgskap uitgee, is dit om ook weer iets terug te kry. Dit is besigheid.

As vriende so iets doen, staan ek stom en weet ek nie wat om te sê nie. Dankie is so leeg. Louis en Riana, Jacques en Jean (en Pierre daar ver in die Kaap), baie dankie! Riana het die mooi gedig geskryf (kyk op die voorblad), en daarin het ek die antwoord gekry hoe om dankie te sê: Ek sal deur ver lande ry, my vriende deur my oë laat sien, my vriende by naam noem as ek stil staan voor die wonder van die Skepping.

Louis-hulle borg die kommunikasiegedeelte van die reis, nl. die gereelde opdatering van die webblad met berigte en foto's as ek eers op pad is. Weereens baie dankie!


Johannes.jpg (71979 bytes) Johannes Cronjé

Seker die belangrikste persoon met my toer volgende jaar is my ou bosvriend, Johannes. Met Johannes en Liezel, sy vrou, kom ek 'n lang pad.

Johannes is 'n tegniese ghoeroe. Johannes gee my sy tyd, sy kennis en tegniese vermoëns. As ek êrens in Afrika sou bly staan, gaan Johannes die fiets met langafstand raad weer aan die loop kry. As ek 'n onderdeel sou kort, gaan Johannes dit blitsvinnig by my uitkry.

Johannes is ook die man wat na die admin moet omsien vir alle moontlike situasies. Deel van die voorafbeplanning is noodsituasie optredes, mediese versekering, selfs waar die assies gestrooi sou moes word as die dinge heeltemaal skeef sou loop. Beplanning is die beste voorkoming.

Ek het dit eenkeer op 'n DVD gesê: Ek gaan nie graag op reis as ek nie 'n "back-up" het van Johannes se kaliber nie. Dankie my ou bosmaat!


ernst.jpg (47364 bytes) Ernst-Jürgen Diekmann

Ernst is 'n goeie vriend uit Duitsland wat al baie toere saam met my in Zimbabwe en Botswana gedoen het.

Ernst het aangebied om die petrol vir 2 512 km te borg. Dit gaan vanaf Naboomspruit wees tot by Lilongwe in Malawi.

Enst, baie dankie vir jou aanbod!


anja.JPG (49233 bytes)  Anja Lubbe

Anja is 'n ou vriendin uit Duitsland en mede-reisiger op baie Botswanatoere.

Om seker te maak dat ek nie foto's verloor nie, het sy vir my 'n 4 GB en 'n 8 GB "flash drive" geskenk. Sou ek egter foto's verloor, het sy verder seker gemaak dat ek nie sleg daaroor gaan slaap nie deur vir my nog 'n stewige opblaasmatras te borg. .

Baie dankie Anja! Dit is so dierbaar van jou! (Is ek nog 'n f ... d...?)


estellejak.JPG (79379 bytes) Estelle and Jacques Roos

My reismaats sedert 2004, my vriende op sonskyndae en hartseerdae. Jacques en Estelle het seker gemaak dat my fiets nie lugloos gaan staan op pap bande nie en het vir my 'n spesiale pomp geskenk om altyd seker te maak ek ry op lug. Dit is egter 'n geskenk wat ek werklik hoop ek nooit hoef te gebruik nie! Dit is nie al nie. Hulle het my petrol vir 'n verdere 2000 km geborg!

Jaques en Estelle, my oë sal julle oë wees. Ek sal Afrika kyk en geniet, ook vir julle.


Luke Signs, 446 Amarillis Street, Marble Hall

Dié wonderlike mense het vir my 'n plakker gemaak wat nou voor op my fiets se windskerm pronk: www.naboom2germany.co.za . Baie dankie vir die wonderlike gebaar en ook vir jou, Rina Bondesio, wat dit spesiaal vir my Naboom toe gebring het. Ek waardeer dit baie!

As julle êrens op 'n ver pad 'n KLR met 'n Naboom2Germany plakker sien, kom skud blad. Dit is ek en my fiets.

Die telefoonnommer van Luke Signs is 013 / 261 2538.


lana.JPG (40628 bytes) Elana Swart, Londen

Elana is 'n ou bosvriend wat nou in Londen werk. Sy verlang na die bos en die rustigheid van die bos. Sy stuur 'n stukkie van haar siel saam op my lang reis deur Afrika en borg petrol vir 3 700km! Elana, baie baie dankie! Ek waardeer dit baie!


Johnie.JPG (45017 bytes) John Mailovich

John is 'n boer in die Waterberg: Breed van skouer, 'n nek wat onse Os sal laat inmekaarkrimp, en arms wat 'n bees in 'n rigting kan dwing. John het egter 'n hart wat kleiner as 'n kopspeld is. Hy haat dit om te sien as iemand swaarkry en was vir baie in Naboom al 'n reddende engel in hul uur van nood.

Sy taal is soms fleuriger as die Namakwalandse blomme. Toe hy van my toer volgende jaar hoor, was sy min woorde: "Jy is f&^% mal."

John borg vir my 1 000km se brandstof. Dis juis vir die deel in die woestyn in. Ek hoop nie ek gaan dan John as reddende engel nodig kry nie want die grote man is band vir vlieg!

Baie dankie John! Ek waardeer jou groothartigheid.


helen.jpg (32228 bytes) Helen Robb

Helen het 'n hart van goud. Die storie van die Francistown meisietjie het haar hart sag gemaak en laat besluit om 'n teddiebeer vir die kind te koop. Baie dankie Helen! Daarby borg sy ook vir my 'n verdere 1 000km se brandstof! Met vriende soos sy kan mens letterlik en figuurlik ver gaan!


rina.JPG (19757 bytes) Rina Bondesio

Rina het met haar kunstalente vir my 'n briefhoof ontwerp, besigheidskaartjies en groot A-4 plakkers vir my fiets. Haar eerste plakker www.naboom2germany.co.za op my fiets het met die Namibiëtoer reeds baie aandag getrek. Benewens die plakkers en kaartjies borg Rina nog petrol vir 'n 1 000km ook. Baie dankie Rina!


Krap.jpg (56592 bytes) Krap Venter

Krap is 'n legende, 'n man wie se stem 'n mens eers hoor voor jy hom sien. Krap het my gebel. Hy het 'n plan uitgedink hoe mens my kan vind as ek êrens in Afrika verlore sou raak. Hy borg my 100 muntstukke. Aan die een kant is die Suid-Afrikaanse vlag, aan die ander kant my naam en die webadres. Orals waar ek petrol ingooi, moet ek 'n petroljoggie 'n muntstuk gee. Julle verstaan, die broodkrummels van Hansie en Grietjie. Krap, baie dankie my ou maat!


dorothee.jpg (71912 bytes) Dorothée Moritz

Die mens wat vir my die grootste bron van inligting geword het tydens my voorbereiding was Dorothée Moritz uit Duitsland. Sy het vir my boeke en kaarte gekoop en dit  uit Duitsland vir my per lugpos gestuur. Op dié manier het my voorbereiding soveel makliker geword. Dorothée, baie dankie! Al daardie boeke sal 'n wonderlike herinnering aan jou bly.


mypa.jpg (75368 bytes) Die Senior

My pa het ook 1 000km se petrol geborg. Vir 'n pensioenaris is dit baie geld, daarom is my dankbaarheid en erkentlikheid teenoor hom baie groot.


charlene2.jpg (49633 bytes) Charlene Kennedy

Charlene is 'n ou vriend sedert my Duitsland-dae. Sy gaan vir my petrol vir 'n verdere 1000km borg. Baie baie dankie Charlene! En nee, jy is nog steeds nie vergewe nie vir daardie dag toe jy my op die fietstoer teen die berg weggery het!


jasper 2007,1 277.jpg (142308 bytes) Louise en Trevor Bernardt

Louise en Trevor is twee dokters in die verre Kanada. Ek het die naweek hul petrolborgskap vir 'n verdere 1 200km ontvang! Baie baie dankie Louise en Trevor! Ek sal vir julle die hitte en sonskyn van Afrika in my opsuig en aan julle in die verre koue Kanada dink! Ek sien uit na ons kuier in Botswana in September!


MariusVenter.JPG (55232 bytes) Marius Venter

Marius, 'n man wat self reeds vanaf Tunisië tot in Suid-Afrika per motorfiets gery het (sien sy webblad www.itsaboutliving.co.za) het vir my 'n BGan kosteloos tot beskikking gestel vir die dae wat ek nie per GPRS of internetkafees die Dagboek kan opdateer nie. Marius is 'n voorbeeld van blinde vertroue en vaste geloof in sy medemens. Marius, ek sukkel nog steeds om die omvang van jou goedhartigheid te verwerk. Sy maatskappy, Interexcel, se webblad is www.interexcel.co.za


Greg.JPG (34350 bytes) Greg du Plooy

Greg van Jetline (Lynnwood Glen, Pretoria) het my verras met sy aanbod om veelkleurige Naboom2Germany plakkers vir die toer te borg. Greg, ek waardeer dit baie. Mag ook jou goedhartigheid dubbel en dwars na jou toe terugkom. Jetline se telefoonnommer is 012 / 348 7650


Terug