2010

Ek het my nou "commit". Ek wil DV vanaf 3 Mei 2010 Europa, die Baltiese state en Rusland en Siberië van wes na oos deurkruis.

Ek wil my toer hervat waar ek verlede jaar opgehou het, nl. München lughawe in Duitsland. My eindpunt beplan ek vir Vladivostok.

Waarmee gaan ek ry? Met dieselfde Kawasaki KLR 650 waarmee ek verlede my 20 000 km toer oor Afrika en Europa gedoen het.

Soos voor my toer oor Afrika (Naboom2Germany) gaan ek ook nou op hierdie webblad julle op hoogte hou waarmee ek besig is.

Geniet dit saam met my!

O ja, as jy nog nie 'n boek gekoop het nie, koop asb. een! Daarmee gaan jy my baie help om vlg. jaar se toer te finansier!

Beplanning

Vervoer van die KLR

Verlede jaar het ek die KLR teruggevlieg (met LTU) vanaf Duitsland tot in Kaapstad. Met my rit hierdie jaar oor Afrika het ek my bakkie per skip (Safmarine) vanaf Egipte teruggestuur.

Wat is die beter opsie?

Die lugvervoer het my baie goedkoper uitgewerk. Verlede jaar het dit ongeveer 1 100 Euro gekos, en binne vier uur nadat die KLR geland het, kon ek verder ry. Daar was geen verdere koste nie. Ons borg moes vir die bakkie se vervoer vanaf Egipte die jaar 1 900 US $ betaal. Dit was egter nie al nie. Met die aankoms in Durban moes nog 'n verdere 1 300 US $ aan tariewe en heffings betaal word! Belaglik.

Ek is dus nou besig om met LTU te onderhandel om weer die fiets vir so goedkoop moontlik op te vlieg Duitsland toe.

Ek het geen idee hoe die fiets van Vladivostok af gaan terugkom nie. Dis 'n probleem wat ek eers daar kan oplos. Van hier af is dit moeilik om met agente daar te onderhandel.

Roete

Ek is klaar met die beplanning. Dit gaan vanaf München (Duitsland) eers Unlingen toe, dan Langenselbold toe waar Duitse vriende woon, Siegen, Pulheim, terug Langenselbold toe, dan Pole, Littaue, Letland, Estland, Rusland, noordoos na St. Petersburg, en dan ooswaarts rigting Siberië, Asië. My eindpunt is Vladivostok.